Talle KZN-kontrakte word ondersoek
2011-11-21 20:21
Durban – Die spesiale ondersoekeenheid (SIU) ondersoek 558 kontrakte waarin R1,9 miljard betrokke is, het die KwaZulu-Natalse premier Zweli Mkhize Maandag gesê.
“Die SIU ondersoek ook 360 sake van botsende belange waarby R3,4 miljard betrek word,” het Mkhize by ‘n leierskapkonferensie in Durban gesê.
Afgevaardigdes sal na verwagting planne opstel om bedrog en korrupsie in die openbare sektor in KwaZulu-Natal te hanteer.
“Soos ons nou praat is daar 1 024 staatsdienswerkers in die provinsie wat aanklagte van bedrog en korrupsie in die gesig staar.”
Volgens Mkhize is 755 sake aangemeld vir vervolging en ander sake is op verskeie dissiplinêre vlakke.
Dit het duidelik geword dat korrupsie langtermyn negatiewe gevolge het op die doeltreffendheid van openbare beleggings.
“Alle korrupte amptenare en sindikate gee prioriteit aan projekte en aktiwiteite wat lei tot groter privaat materiaal en politieke voordele.”
Projekte wat hoë sosio-ekonomiese resultate oplewer kry nie prioriteit nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA