Taksbetalers sal R400m. opdok vir ANC-partytjie
2011-11-10 07:05
Bloemfontein – Belastingbetalers gaan meer as R400 miljoen opdok vir die ANC se eeufeesviering hier volgende jaar.
Dit is buiten die R100 miljoen wat die ANC al vir dié feesviering begroot het.
Die ANC se begroting lyk na kleingeld teenoor die groot bedrae wat bestee word om infrastruktuur in die Vrystaat vir die ANC se partytjie gereed te kry.
Belastingbetalers het reeds R150 miljoen vir die Philip Sanders-oord buite die stad opgedok. Dié oord sal as hoofkwartier vir die feesviering dien.
Nóg R35 miljoen se belastinggeld is begroot om die Metodistekerk Waaihoek, waar dié party in 1912 gestig is, te restoureer.
Vir opknappingswerk en verbeterings aan die Seisa Ramabodu-stadion in Mangaung is R200 miljoen begroot.
Vrystaat-huis, die ampswoning van die premier, Ace Magashule, word ook teen R15 miljoen vir die fees blinkgepoets.
Die geskiedkundige Mapikela-huis hier en die Winnie Mandela-huis op Brandfort word ook teen miljoene rande opgeknap.
Casca Mokitlane, Cope-LPW, het gesê as dit die ANC se feesviering is, moet dié party sy eie geld daarvoor gebruik.
Hy het gesê die ANC glo blykbaar dit is ’n viering van elke Suid-Afrikaner se erfenis en daarom is dit nie ’n probleem as groot bedrae geld bestee word nie.
“As dit die ANC se eksklusiewe viering is en nie alle Suid-Afrikaners se pogings erken nie, is dit verkeerd om belastingbetalers se geld te gebruik.”
Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, het gesê dit sal hoogs onreëlmatig wees as politieke partye van die nasionale en provinsiale regering en munisipaliteite se geld gebruik word om die feesviering te finansier.
“Ons is bekommerd oor hoeveel geld vir die herstel van geboue en die kerk gebruik word, hoewel dit as nasionale gedenkwaardighede verklaar kan word.”
Prof. André Duvenhage, politieke kommentator van die Noordwes-universiteit, het gesê die besteding van belastingbetalers se geld is ’n groot bekommernis en ’n bedreiging vir demokrasie.
Die vermenging van belange is verkeerd. Een politieke party mag nie aanspraak maak op staatsfinansiering as ’n ander party nie toegang daartoe het nie.
William Bulwane, woordvoerder vir Magashule, het nie op navrae gereageer nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad