Tafelberg kan goudmyn wees, sê De Lille
2011-11-08 15:35
Kaapstad – Daar is ongelooflike geleenthede wat na vore sal kom as Tafelberg gekies word as een van die sewe nuwe natuurwonders, het die burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, Dinsdag gesê.
“Ons het die voorreg om een van die mees asemrowende landskappe op die aarde te hê, ‘n land van natuurlike skoonheid,” het De Lille in ‘n verklaring gesê.
“As Tafelberg amptelik as ‘n natuurlike wonder erken word sal daardie unieke skepping permanent in die wêreld gevestig wees. Ongelooflike voordele wag op ons as ons ons deel doen en saam staan.”
Alan Winde, die Wes-Kaap se LUR van toerisme, het Maandag gesê as Tafelberg gekies word as een van die sewe natuurwonders kan Suid-Afrika se toerisme met sowat 20% toeneem.
Dit kan ‘n bykomende R1,4 miljard ‘n jaar inbring en werk skep vir sowat 11 000 mense.
Tafelberg het dit nie tot in die veldtog se top-10 gemaak die afgelope week nie, maar die top-10 kan nog verander, aangesien daar nog tot Vrydag gestem kan word.
– Stem vir tafelberg: SMS "Table" na 34874
– Webwerf: www.votefortablemountain.com
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA