'Taalwet skend niemand se regte'
2012-02-04 07:15
Kaapstad. – Die departement van kuns en kultuur het gister ontken dat hy enigeen se grondwetlike regte skend met sy Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale.
“Die wetsontwerp sluit nie enige taal uit of ontmoedig die gebruik daarvan nie,” het Sibusiso Xaba, direkteur-generaal, by navraag gesê.
Ingevolge die jongste weergawe van die wetsontwerp moet nasionale staatsdepartemente minstens drie tale gebruik om sake te doen of dienste aan die publiek te lewer. Twee daarvan moet inheemse tale wees, wat nie voorheen in status of gebruik bevoordeel is nie.
Engels en Afrikaans tel onder die tale wat voorheen bevoordeel is.
’n Herrie het vandeesweek daaroor losgebars, met Afrikaanse taalorganisasies en -aktiviste wat met hofoptrede gedreig het.
Xaba het gesê die bewering dat die wetsontwerp Afrikaans uitsluit, is gegrond op die aanname dat elke nasionale staatsdepartement en -entiteit Engels en twee Afrika-tale sal kies.
“Dit is bloot ’n aanname omdat niks enige departement daarvan weerhou om Afrikaans te kies nie.”
Xaba het voorts gesê die wetsontwerp maak voorsiening vir die gebruik van minstens drie tale deur nasionale departemente om dienste te lewer, maar niks verhinder enige departement om meer tale as die voorgeskrewe minimum te gebruik nie.
“Die wetsontwerp maak voorsiening vir die bevordering en voorkeur van tale wat nie sulke behandeling in die verlede gekry het nie – aldus die verwysing na inkorting van die gebruik en status.”
Cerneels Lourens, prokureur en taalregte-aktivis, het Vrydag gesê hy is van voorneme om ’n aansoek oor minagting van die hof teen die regering in te dien.
Hy het alle Afrikaanse organisasies uitgenooi om hulle aan te sluit as vriende van die hof.
Lourens het die regering in 2010 met ’n hofbevel gedwing om ’n wetsontwerp te skep om veeltaligheid, veral met betrekking tot die staat se dienste aan die publiek, te bevorder.
Die hof het beslis dat so ’n wet en regulasies voor 15 Maart 2012 goedgekeur moet word.
Die Afrikaans Taalraad het gesê die nuutste stappe bevat selfs ’n bedekte element van vyandigheid en is ’n klap in die gesig van almal wat Afrikaans praat.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger