Taakspan sal na tolpaaie kyk
2011-10-15 15:11
Johannesburg – Die kabinet het 'n taakspan saamgestel om die omstrede Gautengse tolpadstelsel te ondersoek, het die departement van vervoer Saterdag gesê.
"Sibusiso Ndebele, minister van vervoer, Pravin Gordhan, minister van finansies, en ander is deel van die taakspan," het Logan Maistry, 'n woordvoerder, gesê.
Die kabinet het in Augustus verlaagde toltariewe vir die N1-snelweg tussen Johannesburg en Pretoria goedgekeur. Dié tariewe sal na verwagting in die nuwe jaar van krag word.
Die DA het intussen 'n weerstandsveldtog van stapel gestuur deur middel van sosiale netwerke. Die party het ook protesoptogte beplan teen die voorgestelde stelsel.
"Die publiek het verskillende sienings oor die tolstelsel en die befondsing van paaie is 'n saak wat ons almal moet bespreek. Paaie moet gebou en onderhou word, het Maistry gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA