Taakspan ondersoek treinongeluk in Mpumalanga
2012-07-13 22:33
Johannesburg – 'n Taakspan is aangestel om die treinongeluk in Mpumalanga te ondersoek waarin 26 mense gesterf het, het RSG berig.
Vusi Shongwe, minister van veiligheid en sekuriteit, het die taakspan aangestel nadat 'n vragmotor wat plaaswerkers op die N4 vervoer het Vrydagoggend om 07:00 met 'n trein by 'n spooroorgang tussen Malelane en Hectorspruit gebots het.
Die span sal ook die familie van die slagoffers opspoor.
Transnet het intussen sy eie ondersoek begin.
Die bestuurder van die vragmotor is in hegtenis geneem, het kol. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.
Dit is egter nog nie duidelik of die bestuurder aangekla gaan word nie.
Joseph Mabuza, woordvoerder van die departement van provinsiale gemeenskapsveiligheid, het gesê die trein het die vragmotor ongeveer 200 meter ver gesleep.
Die Spoorweg-veiligheidsreguleerder (RSR) het gesê die trein, wat steenkool vervoer het, was vanaf Witbank na Maputo onderweg.
Volgens Mabuza het die personeellede op die trein nie beserings opgedoen nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.