Taakspan gaan nou myne in sensitiewe gebiede bekyk
2010-07-01 09:47
Beeld
’n Taakspan, bestaande uit hoë amptenare van die departement van waterwese en omgewingsake én van mynbou, is aangestel om onder meer die Vele-steenkoolmyn van Coal of Africa (CoAL) by Mapungubwe te ondersoek.
Volgens Sputnik Ratau, woordvoerder van Buyelwa Sonjica, minister van waterwese en omgewingsake, spruit die taakspan uit Sonjica se kommer oor die toenemende mynboubedrywighede in sensitiewe gebiede in Suid-Afrika.
“CoAl se Vele is een van die myne wat die taakspan nou ondersoek,” het Ratau gesê.
“Die twee ministers (Sonjica en Susan Shabangu van mynbou), het verlede week vergader en sal nou saam ’n definisie opstel van wat sensitiewe gebiede behels en waar dit geleë is,” het Ratau gesê.
Die voortbestaan van Mapungubwe, ’n Wêrelderfenisgebied, word bedreig deur CoAL se voorgenome steenkoolmynbou op sy voorstoep.
’n Hoë afvaardiging van die departemente het eergister na verneem word met ’n helikopter oor Vele gevlieg en was glo “geskok” oor wat hulle uit die lug gesien het.
Sonjica het reeds in Februarie vanjaar – kort nadat Shabangu CoAL toestemming gegee het om by Mapungubwe op die oewer van die Limpoporivier vir steenkool te myn – haar kommer daaroor uitgespreek.
Intussen het CoAL reeds sonder enige goedkeuring deur die departement van waterwese en omgewingsake boorgate in die Limpoporivier gesink, mopanie en kremetarte verwyder, ’n aanloopbaan en ’n toegangspad gebou en bergingstrukture opgerig.
Die Groen Skerpioene, wetstoepassers van die departement van waterwese en omgewingsake, het op 24 Mei op Vele toegeslaan en is nou besig om ’n verslag saam te stel, het Ratau gesê.
Sonjica het verlede week skriftelik op ’n vraag deur Gareth Morgan, DA-woordvoerder oor omgewingsake, erken die Groen Skerpioene het afgekom op “bedrywighede” (by Vele) wat gedoen is sonder die nodige omgewingstoestemming.
Riaan van der Merwe, bedryfshoof van CoAL, het onlangs gesê CoAL het by die departement van waterwese en omgewingsake in Limpopo toestemming gekry om bome te verwyder.
Hy het nie Woensdag op navrae gereageer nie.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld