TLU SA: Staat het plig met brande
2011-08-30 17:59
Kaapstad – Kommer bestaan omdat die staat glo nie aan vereistes ten opsigte van brande voldoen nie, sê die TLU SA.
Hoewel die oorsaak van die verskeie verwoestende brande van verlede week tans ondersoek word, “kom al meer getuienis na vore dat die staat self nie voldoen aan alle vereistes wat aan grondbesitters gestel word rakende brande nie,” sê die organisasie in ’n verklaring.
Louis Meintjies, ondervoorsitter, sê hulle vind dat die staat in baie gevalle geen voorbereidings op sy grond tref nie. “Baie brande ontstaan, hetsy moedswillig of nalatig, op padreserwes wat onder die beheer van die regering is. Slegs in uitsonderlike gevalle is die padreserwes behoorlik voorberei vir die brandseisoen.”
Volgens Meintjies is hulle ook bekommerd oor die feit dat die regering, wat verplig is om aan brandverenigings te behoort, nie daarby ingeskakel is nie. Hy sê tydens verlede week se kwaai brande was die staat se rampbestuursvermoë “hoogs ondoeltreffend” en in sommige streke het dit glo totaal ontbreek.
– Lees meer by Landbou.com
– Volg Nuus24 op Twitter