'Sy's g'n man!'
2009-08-23 14:43
S'Busiso Mseleku en Willem Pelser
Johannesburg - Suid-Afrika se nuwe droom-atleet is al twee keer as jong tiener aan geslagstoetse onderwerp – en sy het elke keer geslaag.
Só het Leon Bammau, sekretaris van Limpopo Atletiek, gister by navraag aan Rapport bevestig.
Bammau het te midde van die uitkringende internasionale herrie oor Caster Semenya (18) se geslag gesê die toetse is by twee geleenthede drie jaar gelede gedoen.
Dít was nadat die skole-atletiekverteenwoordigers van twee verskillende provinsies haar geslag bevraagteken het.
Semenya is ontdek toe sy ’n kaalvoet landloopatleet was, het Bammau gesê.
Oor die geslag-storm wat nou wêreldwyd opslae maak, het Koos van der Walt, direkteur van TuksSport, aan Erna van Wyk gesê: “Ons moet wag vir die uitslag – maar by TuksSport twyfel ons nie wat dit gaan wees nie.”
Hy het gesê die omstredenheid oor Semenya – ’n Tukkie-atleet – “is in die aard van die sportwêreld. Dit is baie mededingend en daar is baie op die spel. Die sportreëls moet eerbiedig word.”
Semenya het Vrydag eksklusief met Rapport en City Press uit die atletiekdorp in Berlyn gepraat.
“Die kinders wat my so aanhoudend geterg het oor my geslag het my ’n boelie gemaak,” het sy gesê.
“Ek het die ander kinders baie hard geslaan. Hulle het geleer om nie met my te sukkel nie.”
Semenya (18) sê sy het haar voor haar verstommende oorwinning in die 800m-eindstryd Woensdagaand by die wêreldkampioenskappe nie gesteur aan die herrie wat losgebars het oor die besluit van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) om haar aan geslagstoetse te onderwerp nie.
Sy skryf haar sukses juis toe aan die feit dat sy kan fokus in moeilike omstandighede.
“Voor ’n groot wedloop lees ek nie koerante nie, ek kyk nie televisie of luister radio nie. Ek luister deur my oorfone na gospel-musiek.”
Sy sê haar kinderjare op die platteland in Limpopo was baie moeilik. “Dit het my sterk gemaak.”
Sy het saam met haar neefs grootgeword. “Ek het saam met hulle sokker gespeel en hulle het my stukkend geskop.
“Dít – en die gedurige geterg deur die ander kinders – het my ’n boelie gemaak.”
Sy leef al jare lank saam met die aantygings dat sy ’n man is. Tydens skole-atletiekbyeenkomste moes sy telkemale saam met ’n onderwyser na ’n toilet gaan sodat daar na haar geslagsdele gekyk kan word.
Semenya het telefonies uit Berlyn gesê sy sukkel nog om te glo sy is die nuwe wêreldkampioen in die 800m. “Ek het altyd geweet ek gaan eendag die kampioen wees, maar ek het nie gedink dit gaan so gou gebeur nie.
“Maar toe ek die pylvak binnegaan, toe wéét ek, man!”
Sy het soos altyd voor ’n groot wedloop oor oorfone na musiek geluister om haar te help fokus. “My gunsteling-liedjie is Segopole Boikgantsho Bjaka. Ek het Woensdag oor en oor daarna geluister en hoe meer ek daarna geluister het, hoe vinniger het die adrenalien gepomp.”
Sy vergeet van haar mededingers wanneer sy hardloop. “Jy kan nie wen as jy vir jouself sê ‘o my aarde, ek hardloop nou teen Keniane of Ethiopiërs’ nie!”
Sy volg geen wonder-dieët nie, maar eet baie koolhidrate en proteïne. Die eerste van haar twee daaglikse oefensessies begin vyfuur soggens.
Oor die pad vorentoe sal sy en haar afrigter, Michael Seme van Tuks, besin wanneer sy terug is in Suid-Afrika, sê Semenya.
- Rapport
Vir meer hieroor, besoek Rapport