Swiets in ruil vir seksdade, hoor hof
2010-12-24 09:31
Pretoria - Die agt beskuldigdes in die Pretoriase kinderpornografiesaak se verbintenis met dié saak is gister in hul borgtogverhoor deur die ondersoekbeampte in die saak geskets.
Ao. Tonja Lourens het in die landdroshof in Pretoria-Noord getuig hoe onder meer die pleegouers (onderskeidelik 58 en 57) van ’n agtjarige meisie en ’n sesjarige seuntjie glo hul pleegkinders verfilm het terwyl hulle die kinders gemolesteer en verkrag het.
“Die kind (meisie) het in haar verklaring, asook haar assesseringsverslag gesê dat beskuldigde een (die pleegpa) gemeenskap met haar gehad het in die huis, onder die vrugtebome en agter die varkhokke.” Die meisie het ook getuig hoe sy orale seks met haar pleegpa moes hê en ook haar hande moes gebruik. Die meisie het gesê dit het “sleg geproe” en dat haar handjies moeg geraak het.
“Hulle is in ruil vir dié seksdade swiets (lekkers) belowe.”
Lourens het getuig die seuntjie het in sy verklaring gesê hoe beskuldigde twee (sy pleegma) sy hande en voete vasgehou het terwyl beskuldigde een (sy pleegpa) iets hard agter by hom ingedruk het.
“Beskuldigde twee het vir hom gesê dat hy nie moet huil nie, want as hy glimlag, dan gaan hulle meer geld vir die video kry. Daar is ook aan hom swiets (lekkers) belowe in ruil vir die dade,” het Lourens getuig.
Terwyl Lourens hieroor getuig het, het al agt beskuldigdes in die beskuldigdebank hul koppe geskud en gesug.
Lourens het gesê dat die polisie in besit is van mediese verslae wat daarop dui dat die meisie beserings aan haar maagdevlies opgedoen het en dat dít dui op vorige penetrasie.
Oor die seun het sy aangevoer dat die mediese verslag daarop dui dat daar ’n geringe vergroting aan sy anus is en dat dit van moontlike vorige seksuele molestering kan wees.
Lourens het ook getuig dat daar vier naakfoto’s van beskuldigde drie (36) en vier (26) se kind op ’n rekenaar gevind is.
Lara Cole, een van die regsverteenwoordigers, het aan Lourens gevra of dit nie dalk net ’n ma kan wees wat ’n “cute en classic” foto van haar kinders geneem het nie.
“Nie sommer vier foto’s nie. Die kind het gelê-sit en sy oë was toe, maar sy bene was oop gesprei en jy kan duidelik sy geslagsdele sien,” het Lourens geantwoord.
Dit het ook in die hof aan die lig gekom dat die polisie op soek is na ’n negende verdagte in die saak wat glo dié kinderpornografie versprei het.
Lourens het ook getuig dat die meisie in haar verklarings en assessering gesê het dat beskuldigde vyf (61) en ses (sy vrou) hulle aangesê het hoe om seksuele dade te pleeg.
“Sy (die meisie) het in haar verklaring gesê dat beskuldigde sewe (28) met haar seks gehad het.”
Sy moes ook met beskuldigde agt orale seks hê en dié het ook glo seep aan haar privaatdele gesmeer.
Die borgtogaansoek is tot 29 Januarie uitgestel vir die staat en die verdediging se betoë.
Volg Nuus24 op Twitter.