Swendelaar in Durban vasgetrek
2011-12-19 14:48
Durban – 'n Vermeende swendelaar, wat 'n vrou na bewering met R50 000 bedrieg het, is in La Mercy in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem, het die Mercury-koerant Maandag berig.
Volgens die koerant het die 32-jarige man gereeld sy identiteit en beroep, volgens die tipe bedrog wat hy wou pleeg, verander.
Die swendelaar is vroeër vanjaar skuldig bevind vir bedrog en met R500 000 en 'n opgeskorte vonnis beboet.
Sy jongste slagoffer het vir 'n prokureur in Durban gewerk en is deur die verdagte oortuig om haar spaargeld van R48 550 in sy besigheid te belê, het die Mercury berig.
Hy het ook beloof om haar as 'n werknemer by sy maatskappy in Amerika aan te stel.
In Junie vanjaar het die vrou 'n koerantartikel oor die man se vonnis gelees en 'n klag by die polisiestasie in Berea gaan lê.
Die verdagte se meisie is ook in hegtenis geneem nadat die polisie vasgestel het dat haar bankrekening gebruik is om geld, wat van slagoffers gesteel is, te ontvang.
Die paartjie sal Maandag in die Durbanse landdroshof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA