Sweat: 'Sekswerkers nie kriminele'
2009-10-08 18:12
Kaapstad - Die raad se besluit om ‘n gespesialiseerde misdaad taakmag te stig, gaan ware misdadigers laat wegkom, het die Sex Workers’ Education and Advocacy Taskforce (Sweat) Donderdag gesê.
Harper het gereageer op die uitspraak van JP Smith, ‘n lid van die burgemeesterskomitee, wat gesê het die “lang verwagte” taakmag gaan toeslaan op die stad se ‘rooilig’-gebiede.
"Sekswerkers is nie misdadigers nie. Hulle is dikwels die hoof-slagoffers van misdaad,” het Eric Harper, Sweat se direkteur, gesê.
Die eenheid het reeds talle sekswerkers in hegtenis geneem en sommige beboet.
Volgens Harper verwar Smith die oorsaak en die simptome van die saak wanneer hy sê sekswerk kan geassosieer word met ander vorme van misdaad.
"Wanneer sekswerk onwettig gemaak word, gaan dit ondergronds deur misdadigers bestuur word,” het hy gesê.
"Sekswerkers het al in Suid-Afrika en ander plekke regoor die wêreld bewys hulle kan waardevol vir die polisie wees as hulle toegelaat word om openlik te werk.”
Sekswerkers het byvoorbeeld in een Kaapse voorstad ‘n informele buurtwag gestig. Dié buurtwag het gehelp om 'n moordenaar vas te trek.
Sekswerkers is ‘n maklike prooi en help dus die polisie om misdadigers vas te trek.
Geweld teen vroue het egter ‘n probleem begin word.
“Sekswerk sal nooit weg gaan nie,” het Harper gesê.
“Smith se taakmag sal dit egter moeiliker maak vir moeders om kos op die tafel te sit vir hul kinders en skoolfondse te betaal.”
- Sapa