Swartes kry nie meer grond
2011-11-29 08:00
Kaapstad. – Die regering het sedert 1 April verlede jaar opgehou om die eienaarskap van grond wat herverdeel moet word aan swart mense oor te dra.
Volgens Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, word alle grond wat sedertdien kragtens sy departement se pro-aktiewe grondkoop-strategie bekom is aan swart boere verhuur en behou die staat in die praktyk eienaarskap van die grond.
Nkwinti het gereageer op ’n skriftelike parlementêre vraag deur Annette Steyn, DA-LP.
Steyn het by navraag gesê Nkwinti se antwoord strook glad nie met wat LP’s op oorsigbesoeke op baie plase aantref nie.
“Die minister se antwoord bevestig dat die departement se beleid verander het van die oorspronklike ideaal van eienaarskap na ’n huurpagstelsel.
“Daar is egter verskeie voorbeelde van mense wat nie eienaarskap of huurooreenkomste het nie. Hulle is basies net op die grond geplaas en hul status is onseker.”
Volgens Steyn het die staat sy beleid oor die oordrag van eienaarskap verander toe dit ge-blyk het baie van die bevoordeeldes verkoop hul grond taamlik gou as hulle nie gou wins maak nie.
Aangesien heelparty van die swart boere die grond aan wit boere verkoop, werk dit die ANC se rasgebaseerde teikens vir die oordrag van grond teen.
Steyn meen egter dis nie ’n goeie beleidsverandering nie.
“Die idee was dat die swart boere eienaarskap van die grond neem sodat hulle ’n bate op hul naam het.
“Die DA meen nie dis ideaal as die herverdeelde grond te gou herverkoop word nie, maar dis per slot van rekening die nuwe eienaar se besluit. Selfs as hy verkoop, het hy darem ekonomies gevorder.”
Sy meen die oorskakeling van eienaarskap na huur toon dat die ANC nie ekonomiese transformasie met die beleid beoog nie, maar eerder die najaag van rasteikens.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger