Swart jeug wil glo nie boer nie
2011-07-31 09:00
Julian Jansen en René-Jean van der Berg
Johannesburg - Al hoe minder jong swart en bruin mense wil gaan boer, is in ’n 2008-peiling van Agri SA bevind.
Te min ondersteuning aan opkomende en begunstigde boere van regeringskant af is een van die redes dat talle eens produktiewe kommersiële plase nou bar lê. Maar dit is veral ’n nuwe tendens – dat jong swart en bruin mense boerdery as ’n “minderwaardige beroep” beskou – wat kommer in die georganiseerde landbou veroorsaak.
Dié kwynende belangstelling is veral opvallend in die demografie van studente wat in die tradisionele landbouwetenskappe wil studeer.
Volgens Agri SA het Suid-Afrika nagenoeg 1,2 miljoen kleinboere, van wie die meeste in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes is.
Dr. Theo de Jager, die adjunk-president van Agri SA, sê hul navorsing in Limpopo in 2008 het getoon dat swart skoliere en studente boerdery as ’n “minderwaardige beroep beskou en dit nie aantreklik genoeg ag om akademies daarvoor te kwalifiseer nie”. Dié groepe glo daar is nie genoeg wins in landbou nie en dat die risiko’s te groot is.
Suid-Afrika se aktiewe boere is gemiddeld 63 jaar oud. De Jager sê: “Iets drasties moet gedoen word om die beroep met jong toetreders – waarvan die meeste uit voorheen benadeelde gemeenskappe kom – te voed.”
Prof. Mohammad Karaan, dekaan van agri-wetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch, sê die gebrek aan belangstelling onder jong bruin mense is kommerwekkend. Hy skryf dit toe aan beperkte en negatiewe blootstelling aan die landbou.
“Ons het hier ’n generasie swart jong mense wat nie die voorreg gehad het om op ’n plaas of op die platteland groot te word nie. Diegene wat wel daaraan blootgestel is, het dikwels net armoede en onderdrukking beleef,” sê hy.
Ayabulela Ngoqo, woordvoerder in die Oos-Kaapse departement van landbou, sê: “Landboustudentegetalle is ’n probleem, want baie jong mense verkies om eerder studierigtings soos ingenieurswese te volg.”
Cobus Dowry, ’n gewese Wes-Kaapse landbouminister wat tans betrokke is by die ontwikkeling van kleinboere, sê baie opkomende boere misluk omdat die regering hulle te vroeg los, eerder as om hulle vir minstens vyf jaar te ondersteun. Kleinboere sukkel ook met bankfinansiering.
Tsholofelo Mokobe, van Black Farmers South Africa, sê dis nie genoeg vir die regering om geld te gee nie. Hulle moet opkomende boere ook met vaardighede toerus.
Achmat Brinkhuis, president van die Verenigde Suid-Afrikaanse Landbouvereniging (USAA), sê baie bruin kleinboere is bejaard. Hulle is meestal pensioentrekkers of oud-plaaswerkers wat sonder staatsondersteuning sukkel. “Transformasie in die landbou het misluk. Dit is die laaste vesting van apartheid,” sê hy.
Volgens De Jager het die meeste van die 7,2 miljoen hektaar landbougrond wat aan nuwe boere oorgedra is, in onbruik verval. Dit bied geleenthede vir ’n nuwe generasie jong boere. Maar volgens hom is die vestiging van opkomende boere op “grondhervormingsplase” rampspoedig weens “korrupsie, wanadministrasie en nepotisme in die departement van landelike ontwikkeling en grondsake, asook onbe- kwame amptenare”.
Boonop is die toekoms van minstens 12 landboukolleges tans onseker.
De Jager sê daar word sedert 2006 probeer om die ministers van landbou en onderwys sover te kry om ’n samewerkingsooreenkoms oor landbou-opleiding te onderteken. ’n Tekort aan toerusting en geld veroorsaak dat praktiese opleiding in die meeste gevalle nie geskied nie. Daarby is in ’n studie deur die Landbank bevind die meeste kleinboere misluk weens ’n gebrek aan regeringshulp en swak landboubeleid.
Bonolo Mohlakoane, woordvoerder van die landboudepartement in Noordwes, sê ondersteuningsprogramme moet gebruik word om meer swart landboustudente te lok.
Estelle Theron, woordvoerder van Limpopo se landboudepartement, sê selfs Facebook word ingespan om jong mense na die landbou te lok.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport