'Swanger vroue by Infanterieskool verneder'
2013-01-29 18:01
Johannesburg – Vroue by die Suid-Afrikaanse weermag (SANW) se Infanterieskool op Oudtshoorn word deur hul bevelvoerder verneder en blameer as hulle swanger word, het die weermagunie Sandu Dinsdag in 'n verklaring gesê.
"Die vrouelede van die Suid-Afrikaanse weermag is volgens hul kontrakte geregtig op swangerskap-voordele," het Sandu se nasionale sekretaris, Pikkie Greeff, gesê.
Sandu het in 'n brief aan die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, gesê dat indien die betrokke bevelvoerder nie geskors word nie, die unie hom tot die gelykheidshof sal wend.
'n SANW-woordvoerder, Xolani Mabanga, het gesê hy is nie bewus van so 'n brief nie.
Die betrokke bevelvoerder het Maandag minstens sewe vroue-instrukteurs ingeroep en hulle "ernstig" berispe omdat hulle swanger geraak het," het die unie in die brief geskryf.
Die vroue is beskuldig dat hulle die weermag se naam in oneer gebring het en dat hulle verplaas sal word omdat hulle "nie meer welkom is" by die basis nie.
"Die bevelvoerder het ook aan hulle gesê dat hy die rekrute persoonlik om verskoning sal vra vir 'die swak kwaliteit van instrukteurs' wat swanger raak," het die brief gelui.
'n Swanger rekruut het selfmoord gepleeg as gevolg van dié behandeling," het die unie beweer.
"Die meeste hoës by Sandu was eens op 'n tyd lede van die weermag en is bewus van die reëls wat betrekking het op lede se gedrag," het Mabanga gesê.
Hy het gesê die unie voer 'n persoonlike vendetta teen die Oudtshoorn-basis en sy bevelvoerder.
"Daar is vroue by baie ander basisse wat swanger word. Hoekom is hulle slegs oor Oudtshoorn gepla?, het Mabanga gevra.
Hy het gesê die unie weet hoekom die vroue-rekruut selfmoord by die basis gepleeg het.
"Ek wil nie die inligting van die selfmoordbrief bekendmaak nie uit respek vir die vrou se familie...sy het 'n selfmoordbrief agtergelaat en die unie weet wat die inhoud daarvan is."
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA