Swanger vrou, 3 ander sterf in gru-botsing
2010-07-03 23:40
Johannesburg - Vier mense is dood en drie mense, waaronder 'n swanger vrou, is in 'n kritieke toestand in die hospitaal ná 'n trompop-botsing op die R554 naby Carnival City.
Die ongeluk het omstreeks 20:00 plaasgevind en die wrakke van albei voertuie het oor 'n groot gedeelte van die pad gelê.
Die presiese oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie.
'n Helikopter is na die toneel ontbied en kort ná die helikopter geland het, het die swanger vrou se hart gaan staan.
Paramedici het die vrou probeer bybring en minute later het haar hart weer begin klop.
Chris Botha, 'n woordvoerder van Netcare, het gesê die vrou is na die Charlotte Maxeke-hospitaal geneem vir gespesialiseerde behandeling.
Die vrou en haar baba het egter kort na haar aankoms by die hospitaal beswyk.
Die twee ander kritiek beseerde mense is op die toneel gestabiliseer en per ambulans na hospitale in die gebied geneem vir verdere behandeling.
– Netcare
Volg Nuus24 op Twitter