Swanger? Jy mag dalk nie drank koop
2012-02-07 08:05
Johannesburg – Swanger vroue se dae in drank-winkels is dalk getel.
’n Nuwe voorgestelde wet op dranklisensies is pas deur die Gautengse regering uitgereik en as dit so aanvaar word, sal swanger vroue en niemand in skoolklere voortaan toegelaat word om drank te koop nie.
Sou die wetgewing goedgekeur word, sal die regering ook maatskappye en restaurante wat om dranklisensies aansoek doen kan dwing om swart ekonomiese bemagtiging (SEB) toe te pas in ruil vir sulke lisensies.
Die regering is tans in die proses om openbare kommentaar oor die voorgestelde wetgewing in te win voordat dit gefinaliseer sal word.
“Dit is ’n probleem, want hoe weet ’n mens of ’n vrou swanger is? Die meeste skade word aangerig in die eerste agt weke van swangerskap en dan kan ’n mens nog nie sien dat ’n vrou swanger is nie,” het dr. Gavin Lewis, DA-woordvoerder oor ekonomiese ontwikkeling, gesê.
“Wat van die regte van swanger vroue? Jy kan nie die regte van ’n hele groep mense wegneem nie, selfs al is jou bedoelings goed.
“Ek verstaan mense is bekommerd oor die skade wat dit aanrig, maar dit is nie die antwoord nie,” het hy gesê.
Die DA is ook nie ten gunste daarvan dat alle aansoekers gedwing sal word om aan SEB-vereistes te voldoen nie.
Volgens dr. Andreas Pludderman, wetenskaplike in alkohol- en dwelmmisbruik by die Mediese Navorsingsraad (MNR), het Suid-Afrika van die hoogste voorkoms van fetale alkoholsindroom (FAS) ter wêreld, maar hy is nié oortuig wetgewing is die oplossing nie.
“Dit sal waarskynlik nie ’n aansienlike verskil maak nie. Wat sal vroue verhinder om alkohol te kry by iemand wat nié swanger is nie?”
Pludderman het gesê volgens sy navorsing is opvoeding, eerder as wetgewing, die antwoord.
“Daar is ’n plek vir wetgewing en sekere wetgewing kan ’n verskil maak. Soos om die drankprys op te stoot deur belasting op alkohol te verhoog. Dít het in die meeste lande ’n verskil gemaak.”
Celeste du Preez, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse nasionale raad teen alkoholisme en dwelmafhanklikheid (Sanra), het gesê FAS is ’n wesenlike probleem in Suid-Afrika, maar wetgewing gaan dit nie noodwendig verander nie.
“Om vroue meer inligting te gee en voorkomend op te tree, is eerder die antwoord. Maak sekere vroue weet van die gevare.”
Navorsing van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) toon wetgewing en beperkte toegang tot alkohol kán ’n positiewe bydra lewer om alkoholmisbruik te verminder.
’n Vermindering van verkoopsure en dae waarop verkope toegelaat word, asook ’n beperkte digtheid van alkohol-afsetpunte het volgens die WGO al in die verlede alkoholmisbruik verminder.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld