Swak paaie dwing VS-boere op hul knieë
2011-06-28 08:53
Bloemfontein – Boere in die Wes-Vrystaat word op hul knieë gedwing weens die swak toestand van die pad tussen Dealesville en Hertzogville (die R59). Nie net ly boere enorme geldelike verliese nie, maar is hulle en hul families se lewe in gevaar wat daagliks die pad moet gebruik.
Boere van die Dealesville-distrik het verlede week ’n dringende vergadering gehou om regshulp in te win oor dié pad wat in absolute flarde is. Elke stukkie pad hier is met slaggate oortrek.
Henk Vermeulen, hoofbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), sê die tragedie is dat die probleem nie slegs tot boere in die distrik beperk is nie, maar oor die hele provinsie is boere in ’n krisis gedompel.
Volksblad het self Maandag op die R59 gery en met boere van die omgewing gepraat.
Samuel Fourie, die voorsitter van die Dealesville-boerevereniging, sê benewens die verliese wat gely kan word omdat vervoerkontrakteurs kan begin weier om die paaie te ry en graan van plase te verwyder, is die groot bron van kommer die veiligheid van die mense op die paaie. “Hoe meer ons op die swak pad ry, hoe meer stel ons ons families se lewens in gevaar.”
Fourie sê dinge raak so erg dat boere glad nie meer met hul eie voertuie op die pad wil ry nie.
Gert Malherbe, ’n boer van die omgewing, sê boere ly reeds erge skade weens die toestand van die pad.
“Daar is daagliks voertuie wat onklaar raak. Om een vragmotor se band te vervang beloop duisende rande.”
Hy sê ’n groot krisis kan ontstaan wanneer groot vervoermaatskappye boere se graan op plase moet kom haal.
“Ons hoor reeds van vervoerkontrakteurs wat gaan weier om op die pad te ry. Dit is ’n enorme probleem. Sommige boere kan van hul eie vervoer gebruik maak, maar ander gaan die hand diep in die sak moet druk om van ander vervoerkontrakteurs se dienste gebruik te maak.”
Roux Erwee, ook van die distrik, sê dié pad is beslis die heel ergste wat hy nog teëgekom het.
“Daar blyk net geen einde aan die swak toestand van die pad te wees nie. Hy bly net erger en erger verswak.”
Erwee sê die veiligheid van padgebruikers is op die oomblik die grootste bron van kommer.
Vermeulen sê VL is van die krisis bewus.
“Ons is besig om alle moontlike inligting in te win sodat ons kan besluit of regstappe gedoen moet word.”
Hy sê dit is ook reeds deurgegee na Agri SA en tans word daar probeer om ’n afspraak met die minister van landbou, me. Tina Joemat-Pettersson, te maak.)
Volksblad het Maandag bevestiging ontvang dat daar begin is om die R59 reg te maak. Herstelwerk word by Christiana begin. Tau Pele is die kontrakteur.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad