Swaardmoordenaar vandag gevonnis
2009-08-31 09:34
Johannesburg – Morné Harmse (16), die berugte ‘swaardmoordenaar’ van Krugersdorp, sal vandag in die hooggeregshof gevonnis word vir die moord op Jacques Pretorius.
Harmse het verlede Augustus vir Pretorius (16) met ‘n Samuraiswaard doodgemaak.
Beide was leerlinge by die Nic Diederichs Tegniese Hoërskool op die Wes-Rand, waar die voorval plaasgevind het.
Die saak is op 15 Junie vanjaar uitgestel nadat die welsynswerkers se verslag vertraag is.
Gedurende die hofsaak het Harmse ‘n beëdigde verklaring afgelê waarin hy erken dat hy vir Pretorius doodgemaak het.
In die verklaring sê hy dat hy hom “met ‘n swaard geslaan of gekap het”.
Hy het ook medeskolier Stephanus Hendrik Antonie Bouwer en twee tuiniers, Lesiba Samuel Manamela en Tsiamo Joseph Kodisang, met sy swaard aangeval.
Die hof het aangehoor dat Harmse dit glo gedoen het om aandag te kry.
Harmse het aan sy vriende meegedeel dat hy op dié dag ‘n masker skool toe sou dra en ‘n swaard wat aan sy pa behoort, saam sou vat skool toe.
Een van sy vriende, Marco Fourie, het gesê hy sou ‘n bom skool toe bring terwyl ‘n ander, Max Brechlin, ook ‘n masker sou dra en ook 'n swaard saam met hom sou bring.
Op die spesifieke dag het Fourie sy fopbom skool toe gebring en aan sy vriende meegedeel dat hy eerder die gewere (wat glo ook deel van hulle planne uitgemaak het) by die huis gelos het.
Brechlin het voor skool in die kleedkamer sy swaard uitgehaal en sy masker aangetrek.
Toe die skoolklok egter lui, het hy sy masker afgehaal en die swaard weer gebêre.
“Marco het vir my die bom gegee en gesê ek moenie die pennetjie uittrek nie, want dit sal ontplof," aldus Harmse.
“Ek het die pennetjie uitgetrek en die ‘bom’ op die vloer gegooi, maar niks het gebeur nie.
“Toe gaan hulle almal uit, want die klok het gelui,” het Harmse getuig.
“Toe daar nog ‘n groep leerlinge by my verbygestap kom, het ek onwettiglik en met opset vir een van die leerlinge (Pretorius) met my swaard gekap”.
“Toe Fourie op die grond geval het, het ek omgeswaai en vir Bouwer onwettiglik en met opset, teen sy been getref.
“Bouwer wou weet hoekom ek dit gedoen het, en ek swaai toe die swaard onwettiglik en met opset om hom teen die linkerkant van sy kop te tref,” het Harmse aan die hof gesê.
“Op dié stadium het Lesiba Samuel Manamela en Tsiamo Joseph Kodisang na my toe aangekom.
“Ek het onwettiglik en met opset, my swaard in die rigting van Lesiba en Tsiamo geswaai,” het hy gesê.
- Sapa