Suur mynwater stroom deur dié spogbuurt
2010-09-20 09:12
Johannesburg - Die minister van waterwese en omgewingsake het die eienaars van ’n ou steenkoolmyn naby die spogbuurt Jackeroo Park in Emalahleni (Witbank) waaruit suur mynwater nou reeds byna ’n jaar lank borrel, gewaarsku dat hulle strafregtelik vervolg kan word.
Buyelwa Sonjica, minister van waterwese en omgewingsake, het op ’n vraag deur Gareth Morgan, DA-woordvoerder, gesê sy het die base van die ou myn gewaarsku dat hulle die erg besoedelde water wat uit ’n ou skag loop “onmiddellik” moet beheer.
Sy het by die plaaslike owerheid verneem die probleem is glo voorlopig opgelos, het sy gesê.
Inwoners van dié woonbuurt wat kla dat die suur mynwater in hul tuine en in die strate van die woonbuurt afloop, het in reaksie op Sonjica se antwoord gesê die situasie is onveranderd.
Die water loop steeds om hul huise en in hul tuine, waar dit ’n spierwit neerslag vorm en al hul plante laat vrek.
Selfs van die strate in die woonbuurt is spierwit soos wat die sulfate daarop neerslaan.
’n Swaelreuk hang ook oor die buurt.
Grieta van der Westhuizen, wat reg oorkant die ou myn woon, het gesê die situasie is ondraaglik en sy “vrees” die dag wanneer dit weer begin reën.
Volgens haar het feitlik al die plante in haar tuin gevrek en is byna haar hele erf “sopnat”.
Sy vertel amptenare van die plaaslike owerheid het onlangs keerwalle gegooi sodat die water nou in Deborastraat afloop tot reg in die Klein-Olifantsrivier.
Sonjica het gesê haar departement het die base van die myn gewaarsku dat hulle wetgewing oortree en dat hulle die water moet beheer.
Sy het gesê sy het verneem die mynbase het glo reeds ’n pomp geïnstalleer om die water weg te pomp na ’n dam op die mynperseel sodat dit nie in die woonbuurt se strate afloop nie.
Volgens haar is haar departement tans besig om ondersoek in te stel na wie die gebied moet rehabiliteer: haar departement of die beweerde oortreder.
Sonjica het in ’n afsonderlike antwoord gesê die eienaars van West Coal (by Jackeroo Park) is gewaarsku dat hulle die Waterwet oortree.
Wessie van der Westhuizen (nie verwant aan Grieta van der Westhuizen nie), bestuurder by die myn, was nie vir kommentaar beskikbaar nie.
Op ’n vraag deur Morgan waarom dit so lank neem om teen onwettige myne op te tree, het Sonjica gesê haar amptenare moet “baie seker van hul saak wees” omdat mynbase siviele eise teen haar departement kan instel vir “onverantwoordelike” strafregtelike klagte en selfs vir waarskuwings.