Susters se Gautrein-nagmerrie oor kougom
2012-07-17 08:45
Johannesburg – Twee susters is ure lank deur Gautrein-sekuriteitswagte aangehou en met R700 beboet omdat hulle kougom gekou het, berig The Star.
Die voorval het Vrydag plaasgevind.
Pontso Pakkies en Lebo Sibisi was nie bewus daarvan dat kougom nie toegelaat word op die trein nie. Terwyl hulle vir die trein gewag het, het 'n sekuriteitswag hulle genader en gesê hulle moet van die kougom ontslae raak, het Pakkies gesê.
Nadat hulle met die sekuriteitswag gepraat het, het hulle die kougom in papier gedraai en in hul handsakke gesit omdat daar nie 'n asblik naby was nie.
Toe die trein by die stasie intrek, het een van die sekuriteitsbestuurders aan hulle gesê hulle mag nie in die trein klim nie.
"Hy het gesê ons het geweier om die kougom weg te gooi en dat hy ons gaan beboet," het Pakkies gesê.
Die susters is aangehou in 'n kamer waar daar geen selfoonontvangs is nie. Die sekuriteitswagte het ook geweier dat hulle hul familie kontak en toilet toe gaan.
Hulle is vrygelaat nadat hulle 'n boete van R700 betaal het.
Bombela-konsortium, wat die trein bedryf, het gesê die reëls op sy treine is van die hoogste standaarde.
Kelebogile Machaka, woordvoerder, het gesê passasiers word nie toegelaat om op die trein te eet of drink nie.
"Om kougom van teëls, stoffering en matte in die trein te verwyder, is nie net duur nie, maar in sommige gevalle kan dit ander passasiers, wat per ongeluk daarop trap of sit, verontrief."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA