Survivor-man toets positief vir dwelms
2010-03-17 11:45
Johannesburg - Hip hop-kunstenaar Molemo Maarohanye, ook bekend as Jub Jub, en sy medebeskuldigde Themba Tshabalala, het positief getoets vir kokaïne en morfien na hul straatresies waartydens vier kinders doodgery is, het die hof vandag gehoor.
"Sy urienemonster het positief getoets vir dié twee dwelms”, het inspekteur Mpho Matshidiso aan die Protea-landdrosshof in Soweto gesê.
Tshabalala het nie alkohol in sy bloed gehad nie maar Maarohanye het wel.
Die staat argumenteer dat die twee nie borg moet kry nie.
Die twee word op vier aanklagte van moord aangekla, twee van poging tot moord, en roekelose of nalatige bestuur en dronkbestuur, nadat hulle tydens 'n straatren na bewering tussen 'n groep skoolkinders ingejaag het.
Ontstoke betogers het polisievangwaens met hulle vuiste geslaan en probeer om die hof binne te gaan. Die polisie op die toneel staan gereed met rubberkoeëls en 'n waterkanon terwyl die aggressiewe skare teen die hofhekke beur.
- Sapa