Supreme Poultry: Ons herverwerk wél hoenders
2010-12-21 12:03
Kaapstad - Die maatskappy te midde die herrie oor herverpakte hoender het bevestig dat hulle wél die vleis herverwerk vir menslike gebruik, maar dat hulle dit nie aan winkels versprei nie.
Suprme Poultry het dit Dinsdag in 'n verklaring gesê. Hulle het egter nie laat blyk waar presies die hoender dan verkoop word nie.
Die maatskappy het ook aangedui hulle gaan regsaksie neem teen Johan Matthee, voormalige werknemer wat die skandaal in Rapport oopgevlek het.
Luidens die Sondagkoerant se berig is dit algemene praktyk vir die maatskappy om hoenders wat se vervaldatum verstryk het, af te spoel, met pekelwater in te spuit en dan te herverpak voordat dit aan Pick n Pay en Shoprite Checkers verskaf word.
"Ons verklaar dat geen herverpakte produkte ooit aan die kettingwinkels verskaf is nie," lui die verklaring.
In Rapport se berig het die maatskappy gebieg dat hierdie herverwerking van hoender wat deur kliënte teruggestuur word, "toelaatbaar is ingevolge die reg binne sekere riglyne en die (herverwerkte) produk mag gebruik word vir onder meer verbruik deur mense en diere.”
Supreme Poultry, wat ook Pick n Pay se No Name-handelsmerk hoenders verskaf, het gesê hulle pas streng kwaliteitbeheer toe, wat inspeksie vir bakteriële infeksie insluit.
"Enige produk wat nie op standaard is nie, word verwyder."
Volgens hulle is Matthee op 'n veldtog om die maatskappy se naam deur die hoenderhok te vee aangesien hy onlangs ontslaan is - volgens hulle weens 'n klag van seksuele teistering.
- Sapa