'Superkiem' eis nóg een
2011-10-18 13:10
Johannesburg – Drie van die 10 pasiënte wat in Suid-Afrika met NDM-1, 'n weerstandige super-bakterie, besmet is, is nou dood, het 'n woordvoerder van die Life Glynnwood-hospitaal in Benoni gesê.
"Ek kan dit bevestig," het Adam Pyle gesê.
Nóg een persoon is intussen met die kiem besmet. Dít bring die aantal gevalle sedert Vrydag op 10 te staan.
Verdere besonderhede oor die drie pasiënte wat dood is, was nie onmiddellik beskikbaar nie.
Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het gesê die pasiënte wat met die kiem besmet is, het ander chroniese siektes wat 'n rol speel in hul dood.
Die NDM-1-geen word veral in E.coli- en salmonella-bakterieë gevind en leef in die gastro-intestinale kanaal en pasiënte se longe en urienweg word aangetas.
Die kiem 'n impak op die liggaam se vermoë om homself gesond te maak.
Die kiem kan tussen verskillende bakterieë uitgeruil word en verander die genetika van enige bakterie om dit weerstandig teen selfs penisillien te maak.
Mense kan vir maande leef sonder om te weet hulle is draers en sal geen simptome toon nie.
Wanneer die gasheer se immuunstelsel egter swak word of wanneer die NDM-1 jou dermkanaal koloniseer en bakterieë na die bloedstroom, urienweg of van 'n besmette bron na 'n nuwe pasiënt versprei, kan ernstige infeksies ontstaan, het dr. Steve Taylor, mediese direkteur van die hospitaal, gesê.
Voorheen is NDM-1 gevind in mense wat onlangs in Indië was of mediese behandeling daar ontvang het, het Taylor gesê.
Die vermoë van NDM-1 om vinnig te versprei, beteken egter dat sekondêre infeksies nie verband hou met reise na die Indiese subkontinent nie en onlangs regoor die wêreld kop uitgesteek het.
NDM-1 infeksies kan in enige hospitaal wêreldwyd en Suid-Afrika voorkom en is in hospitale in die openbare- en privaatsektor in die Verenigde Koninkryk, Amerika, Australië, Japan en Kenia opgemerk.
Nios het gesê 'n program is in plek gestel om nuwe besmettings te monitor.
Dokters sal ook gevra word om die antibiotika-behandelings wat hulle bestel het, te hersien.
– Volg Nuus24 op Twitter