Superbelasting is moontlik
2012-02-22 07:10
Kaapstad – Welvaartbelasting kan dalk vandag in een of ander vorm sy opwagting maak in die nasionale begroting – moontlik deur ’n superbelasting.
Belastingkenners glo “politiek aanvaarbare” veranderings kan verwag word in belasting en dit beteken ryker mense sal geteiken word.
Anton Maskowitz, belastingspesialis van die welvaartbestuurder Sanlam Private Investments, meen ’n superbelasting vir individue kan dalk vandag aangekondig word. In sekere lande is dit op individue in die boonste inkomstekategorie van toepassing. Hy meen ook dit is onwaarskynlik dat boedelbelasting afgeskaf sal word.
“Boedelbelasting is ’n vorm van welvaartbelasting in Suid-Afrika en die minister sal dit moeilik vind om te verduidelik waarom dit afgeskaf word.” Volgens hom gaan strenger toesig oor die superryk-belastingontduikers ook kom.
Gewone mense sal egter meer geraak word deur die verwagte inligting oor die hervorming van aftreefondse, sê David Gluckman, woordvoerder van Sanlam se afdeling vir werkervoordele. ’n Besprekingsdokument word vandag of binnekort verwag omdat pres. Jacob Zuma verlede jaar in sy staatsrede gesê het dit gaan voor die einde van die jaar beskikbaar gestel word.
Kwessies wat in die dokument aandag sal kry, sluit in die aard van die beoogde nasionale aftreefonds en hoe die private sektor se pensioenfondse in só ’n stelsel sal inpas. Hy maan teen paniek soos in 2007 toe onttrekkings uit pensioenfondse plaasgevind het oor die regering se planne.
Arthur Kamp, ekonoom van Sanlam Beleggings, het gesê die regering se bestedingsprioriteite gaan gefokus wees op werkskepping, die bekendstelling van die Nasionale Gesondheidsversekeringsplan (NGV) en die verskuiwing van sy besteding na beleggings in infrastruktuur.
Die onderbesteding deur munisipaliteite en staatsondernemings sal aandag geniet.
Des Kruger, belastingdirekteur van Webber Wentzel, het gesê een van die belangrike vrae waarop ’n antwoord gesoek word, is hoe die regering aandag gaan gee aan die tekort aan begrotingsinkomste. As belasting op toegevoegde waarde (BTW) verhoog word, sal verligting op sekere vlakke van dié belasting aangekondig moet word om dit meer politiek aanvaarbaar te maak.
Kruger en Maskowitz meen albei ’n vanselfsprekende bron van inkomste vir die regering kan kapitaalwinsbelasting (die wins op die verkoop van bates soos eiendom en aandele) wees. “Dit gaan die mees politiek verteerbare benadering wees om die begrotingsinkomste te verhoog en die tekort in te perk”, sê hulle.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger