Sunette moet klasse bywoon, sê DA
2010-11-10 09:01
Die Burger
Kaapstad - Die sangeres Sunette Bridges, wat na bewering rassistiese kommentaar op haar Facebook-profiel geskryf het, moet sensitiwiteitsklasse bywoon.
Só het dr. Annelie Lotriet, DA-woordvoerder oor kuns en kultuur, Dinsdag in ’n lidverklaring in die Nasionale Vergadering gesê.
Sy het bygevoeg Bridges behoort alle Suid-Afrikaners om verskoning te vra vir haar uitlatings.
Bridges het verlede maand op Facebook gesê al wat swart mense laat werk, is die sambok. Die gewraakte inskrywing het gelui: “Van al die instrumente wat daar is om mee REGUIT te bou – ’n waterpas, profiele, maatband, fishline, square – is ’n sambok wraggies die enigste ene wat vir hierdie Groenie van my werk hoor!!! EISH!!!!! Sx”.
Sy het vroeër reeds klagtes hieroor afgelag en dit as “absoluut pateties” afgemaak.
Lotriet het gesê die DA is geskok oor dié “verskriklike en minagtende” uitlatings oor swart Suid-Afrikaners.
“Dit herinner ’n mens eerder aan ’n era van rasseheerskappy onder apartheid as die soort gesprek wat ’n mens verwag om in 2010 in ’n veelrassige demokrasie te hoor.
“Dit is verder skokkend dat sy haar uitlatings probeer regverdig.”
Volgens Lotriet is dit ’n aanduiding dat daar nog baie Suid-Afrikaners is wat verwyderd staan van die waardes van ’n moderne Suid-Afrikaanse samelewing en wat ongevoelig en onverskillig is in hul behandeling van medeburgers.
Jeremy Cronin, adjunkminister van vervoer, was dit met Lotriet eens, maar het vinnig bygevoeg die DA kan gerus ’n klomp van sy eie koukuslede op dieselfde kursus stuur as wat hulle vir Bridges voorstel.
“Die uitlatings (van Bridges) is skandelik. As sý die klasse bywoon, is daar ’n aantal lede in die DA se koukus wat dalk óók by die klasse baat sal vind in hul poging om ’n nie-rassige Suid-Afrika te verstaan.”
- Die Burger