Sun City-werkers per abuis vergiftig
2010-06-04 19:03
Johannesburg - Sun International het Vrydag in 'n persverklaring gesê dat werkers by hulle Sun City Cascades-hotel per abuis met insekdoder vergiftig is.
Cosatu het Donderdag bekend gemaak dat sowat 30 tot 35 werkers mediese behandeling moes ontvang nadat hulle vergiftig is toe insekdoder in die hotel se kombuis gespuit is.
“Al die ingange is gesluit en die area afgebaken, maar die lugversorgingstelsel is nie afgesit nie,” het Sun International in ‘n verklaring gesê.
“Die toesighouer het egter dadelik die lugversorging afgeskakel toe hy besef het dat dit steeds aan was. Van die gifstowwe het egter reeds binne die ventilasietonnels inbeweeg.”
Cosatu het Sun International by die departement van arbeid aangegee en ook daarop aangedring dat toetse op die gifstof gedoen moet word. Hulle het ook versoek dat die kontrakteur vervolg word.
Die vakbondfederasie eis nou ook dat Sun City se bestuur verantwoordelikheid neem vir die skade wat die werkers aangedoen is.
Sun International het Vrydag gesê dat hulle jammer is oor die voorval en dat hulle hul volle samewerking sal gee as die departement van arbeid ‘n ondersoek van stapel stuur.
Al die personeellede het mediese behandeling ontvang na afloop van die voorval. Slegs een persoon moes in die hospitaal bly.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA