Suiwelbedryf: 'Koop Suid-Afrikaans'
2010-02-19 16:59
Johannesburg – Die Melkprodusente-organisasie (MPO) het aan verbruikers gevra om “Suid-Afrikaans te koop”, het Bertus de Jongh, hoof-uitvoerende beampte vir die MPO, Vrydag gesê.
De Jongh het ‘n versoek aan verbruikers gerig om seker te maak dat hulle suiwelprodukte koop wat in Suid-Afrika vervaardig is.
Sodoende dra hulle by tot die land se ekonomie en word werksgeleenthede in die suiwelbedryf volhou.
Hy het in ‘n verklaring gesê dat die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf werk verskaf aan meer as 60 000 mense.
“Suiwelprodukte word tradisioneel ingevoer gedurende die winter.
“Die MPO verwag dat ‘n groot hoeveelheid ingevoerde suiwelprodukte hierdie winter in supermarkte gaan verskyn,” het De Jongh gesê.
Hy het bygevoeg dat ingevoerde produkte nie noodwendig aan Suid-Afrikaanse standaarde voldoen nie.
“’n Groot persentasie van die monsters wat van ingevoerde suiwelprodukte by die MPO se invoer moniteringsdiens, Agri Inspec, geneem is, dui daarop dat die produkte nie van dieselfde kwaliteit as plaaslike produkte is nie.”
De Jongh het ook gesê dat Suid-Afrika geseënd is met bekostigbare voldoende voorrade van hoë kwaliteit suiwelprodukte.
- Sapa