Suid-Kaapse damme voller, maar droogte nog nie gebreek
2010-06-30 10:00
Die Burger
George - Hoewel die Tuinroetedam in dié dorp hoër as die 30%-vlak gestyg het, is daar nog steeds nie sprake dat die droogte gebreek is nie.
Die vlak van die dam het Dinsdag op 30,3% gestaan. Dit was op 9 September verlede jaar so vol. Die dam was op 18 Junie vanjaar 28% vol.
Die 30%-damvlak het vir baie mense as ’n verrassing gekom, omdat nie verwag is dat dit so gou sou gebeur nie.
Harold Basson, senior bestuurder: siviele ingenieursdienste van die munisipaliteit, het Dinsdag gesê die verdere styging is verblydend en ’n aanduiding dat die opvanggebied nou baie goed op reënval reageer.
Waterverbruik wissel tussen 20 en 23 megaliter per dag. Dit is effens hoër as onlangse verbruik, maar steeds baie goed. Mense word egter steeds versoek om water spaarsamig te gebruik.
Gerhard Otto, hoof van rampbestuur in Eden, het gesê die vlakke van damme in die streek is stabiel, behalwe vir die Wolwedansdam in Mosselbaai. Die vlak van dié dam het Maandag op 21,49% gestaan.
Daar is baie kommer oor die situasie in Mosselbaai.
’n Aankondiging sal binnekort gedoen word oor landboubesproeiings. Dit sal bepaal dat daar ’n 60%-beperking op landboubesproeiings in die Mosselbaai-opvanggebied is. Dit is 60% minder as ’n boer se totale geregistreerde waterverbruik. As die boer byvoorbeeld 10F water gebruik, sal hy net 4F mag gebruik.
Etienne Steyn, waarnemende munisipale bestuurder van Hessequa, het gesê die vlak van die Korentepoortdam by Riversdal het Maandag op 31,29% gestaan. Dit is ’n effense styging – op 21 Junie het dit op 30,48% gestaan. Die vlak van die Duivenhoksdam by Heidelberg het Maandag op 32,19% gestaan.
Steyn het gesê die droogte is steeds kritiek en waterbeperkings bly van krag.
Hessequa wag nog vir ’n antwoord oor ’n toelaag van R3miljoen vir grondwater van die Eden-distriksmunisipaliteit en het ook aansoek by die nasionale tesourie gedoen vir R20 miljoen om ’n ontsoutingsaanleg by Witsand te bou. Ook in dié verband is ’n antwoord nog nie ontvang nie.
Die Raubenheimerdam in Oudtshoorn se vlak het van 46% tot 48% gestyg. Ntobeko Manqgwenqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het gesê dié dam se vlak het met 2% gestyg vanweë die onlangse sneeu wat gesmelt het. Die dam se vlak het aan die begin van Maart op 50% gestaan.
In dié stadium is die watersituasie nie ’n krisis nie, maar daar is kommer oor die damvlak. Waterbeperkings bly van krag.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger