'Stuur 1 000 studente na Kuba vir mediese opleiding'
2012-07-05 23:00
Johannesburg – Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid, het Donderdag tydens ‘n konferensie in Johannesburg maatstawwe aangekondig om die staat se gesondheidsdienste te verbeter.
Dit sluit in om meer studente na Kuba te stuur vir opleiding, die bou van nuwe hospitale, opknapping van verpleegkolleges en die aanstel van ‘n ombudsman vir gesondheid.
Van September hierdie jaar sal 1 000 matrikulante na Kuba gestuur word om opgelei te word as mediese dokters, ‘n toename van die huidige 60 studente per jaar.
Die regering beplan ook om dokters in die privaatsektor te betaal om ‘n sekere hoeveelheid ure by staatsklinieke te werk.
Die minister sê die staat sal R1,4 miljard spandeer op die opknapping van 102 verpleegkolleges in die land.
“Ons glo die besluit om verpleegkolleges te sluit was ‘n verkeerde besluit,” het hy gesê.
Motsoaledi het ook gesê terwyl die openbare sektor sy effektiwiteit moet verbeter, moet die privaatsektor sy kosters beheer.
Hy sê ook sy departement sal probeer om higiëne, die beheer van infeksies, lang rye by hospitale, tekorte aan medikasie en die veiligheid van werkers te verbeter.
‘n Ombudsman vir gesondheid sal aangestel word om ‘n platform te skep vir die publiek om klagtes in te dien.
Hy het bygevoeg daar is planne om ‘n gesondheidstelsel by skole in te stel wat inentings, die gebruik van dwelms en alkohol en tienerswangerskappe sal hanteer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA