Stukkende deur hou Mbeki weer uit die lug
2010-09-27 07:39
Johannesburg- Niemand sal oudpres. Thabo Mbeki verkwalik as hy ’n fobie oor vliegtuigdeure begin ontwikkel nie.
Mbeki was eergisteraand vir die tweede keer vanjaar weens ’n stukkende vliegtuigdeur op ’n lughawe gestrand.
Mbeki en vlug SA204 se ander passasiers was eergisteraand al in die vliegtuig op die John F. Kennedy-lughawe in New York en reg om terug na Suid-Afrika te vlieg toe die vlug weens die fout met die deur vertraag is, het Suid-Afrikaners op die vlug aan Beeld vertel.
Die deur is glo op die vliegtuig se vorige skof tussen Dakar in Senegal en New York op die lughawe beskadig.
Die vlug het steeds voortgegaan na New York toe.
Dit is onduidelik waarom die vlug daarheen voortgegaan het, maar die terugvlug vertraag is.
Die bemanning en passasiers het by ’n hotelletjie naby die lughawe gaan inteken waar elkeen ’n $20-koepon (sowat R140) gekry het vir kos, het van die passasiers vertel.
Mbeki het Vrydag ’n toespraak by die Verenigde Nasies se hoëvlak-vergadering oor Soedan in New York gelewer.
Fani Zulu, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), het gister aan Retha Grobbelaar bevestig die vlug is weens die skade met sowat tien uur vertraag en sou gisteraand in Suid-Afrika aankom.
Zulu kon nie bevestig of Mbeki op die vlug was nie.
Mbeki was in Februarie ’n dag lank op die lughawe van Khartoem in Soedan gestrand toe ’n Burgerlugvaartowerheid-vliegtuiginspekteur die deur van sy gehuurde straler toegedwing het.
’n Tweede vliegtuig met ’n tegnikus om die deur te herstel, moes van Suid-Afrika gestuur word.
- Beeld