Studente woedend oor hoë klasgelde
2010-10-15 08:16
Stellenbosch - Die studenteraad (TSR) van die Universiteit Stellenbosch (US) se Tygerberg-kampus beplan Maandag ’n protesoptog teen die hoë koste van hoër onderwys.
Dít nadat die US se plan om klasgelde volgende jaar met 11% en koshuisgelde met 14% te verhoog onlangs – te midde van ontevredenheid onder studente – bekend geword het.
Die studente op die Tygerberg-kampus in Bellville gaan omstreeks 13:00 ’n optog van die studentesentrum na die fakulteit gesondheidswetenskappe se gebou hou om hul ontevredenheid te wys, het Karolien Groenewald, TSR-lid vir leierskapsontwikkeling, studentedialoog en eenheid, gesê.
“Met die US se verhoging in studentegelde vir 2011 het hierdie kwessie ’n groot prioriteit geword vir studenteleiers, veral in Suid-Afrika se huidige ekonomiese omstandighede,” het sy gesê.
“Die aksie is gemik op die bestuur van ons universiteit, maar ook op die regering. Dit is tyd dat die jeug, die bestuur van universiteite en die regering hul verantwoordelikheid opneem om beter toeganklikheid tot tersiêre onderrig vir die generasies wat kom te verseker.”
Die studente gaan swart en rooi dra om hul “medelye en hartseer” teenoor die jeug in Suid-Afrika wat “weens finansiële tekorte nie kan studeer nie” uit te beeld.
Die US het vroeër sy simpatie uitgespreek met sommige studente en hul ouers wat finansieel sukkel en gesê alle syfers en aanpassings is tans voorlopig, tot die US-raad se vergadering in November waartydens die begroting goedgekeur word.
Sedertdien het die US-bestuur hul konsultasie met fakulteite en studente voortgesit om die behoeftes van al die afdelings van die US fyner in ooreenstemming te bring met die verwagte beskikbare geld, het Mohamed Shaikh, US-woordvoerder, Donderdag gesê.
Studenteverteenwoordigers is uitgenooi om gebruik te maak van bestaande platforms vir gesprekvoering om enige misverstande en wanpersepsies oor die voorgenome verhoging van klasgelde verder te bespreek. “Die US-bestuur het ook die besluit van die TSR om die voorgestelde aanpassing van klas- en koshuisgelde te aanvaar, verwelkom,” het Shaikh gesê.
“Die TSR het ook versoek dat hy meer breedvoerig gekonsulteer word by toekomstige verhogings en dat die US oorweging moet skenk aan maniere om behoeftige studente te ondersteun.”
- Die Burger