Studente ruk op teen borgtog van Survivor-man
2010-03-16 14:14
Johannesburg – Die Congress of South African Students (Cosas) beplan ’n optog na die hooggeregshof in Johannesburg om teen die borgtog wat aan die voormalige Survivor-deelnemer en sy mede-beskuldigde toegestaan word, te betoog.
Die twee mede-beskuldigdes het verlede week na bewering vier leerlinge in Soweto gedurende ’n jaagtog doodgery.
"Woensdag gaan studente van reg oor Gauteng by die Johannesburgse hooggeregshof bymekaar kom om die aansoek om borgtog vir die twee moordenaars teen te staan,” het Oagilwe Louw, die provinsiale sekretaris van Cosas gedurende ’n nuuskonferensie in Johannesburg, gesê.
Die studente gaan ook ’n beroep op die SABC doen om nie meer die hip hop-musikant, Molemo Maarohanye, beter bekend as Jub Jub se liedjies uit te saai nie. Hy is een van die beskuldigdes. Jub Jub was ‘n voormalige deelnemer aan die realiteitsprogram, Survivor.
"Die uitsaaier beeld hom as ’n held uit,” het hy gesê.
Die studente het ook hulle steun teenoor Julius Malema, die ANC-jeugleier uitgespreek.
“Ons kan nie gesê word watter liedjies ons toegelaat word om wel te sing nie. Ons sal ons revolusionêre liedjies sonder vrees van enige wit rassiste aanhou sing.”
Malema is verlede week hewig gekritiseer nadat hy die liedjie, “Skiet die boere” gesing het.
Louw het verder gesê studente sal die 2010-Wêreldbeker ontwrig indien hulle nie gratis opvoeding ontvang nie.
Die studente was glo onbewus van die feit dat Woensdag se hofverrigtinge egter in die Protea-landdroshof in Soweto sal plaasvind.
-Sapa