Studente kry geld terug oor rente te hoog is
2011-10-11 08:11
Pretoria – R78 miljoen gaan terugbetaal word aan 34 000 voormalige studente wat danksy die nasionale skema vir studentefinansieringshulp (NSFAS) gestudeer het, maar te veel rente op lenings betaal het.
Dié regstelling is een van verskeie wat dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, Maandag in Johannesburg aangekondig het.
Nzimande het die NSFAS-jaarverslag, wat ook ’n ongekwalifiseerde oudit gekry het, uitgereik nadat die skema die vorige jaar deur “uitdagings geteister is wat ingryping genoodsaak het”.
Die NSFAS-raad is hersaamgestel en mnr. Ashley Seymour, voormalige uitvoerende hoof, is in April afgedank.
Nzimande het gesê geldsteun aan arm studente is een van die hoofprioriteite van die departement van hoër onderwys en opleiding.
NSFAS speel ’n deurslaggewende rol om toegang tot naskoolse onderrig te verbeter.
Nsfas is in Februarie gevra om voor die parlement se staande komitee op openbare rekeninge (Skoor) te verskyn om verlede jaar se afwysing deur die ouditeur-generaal te verduidelik.
Nzimande het daarna opdrag gegee vir ’n “omdraaistrategie”.
Van die redes daarvoor was die bestuur se versuim om internasionale ouditstandaarde toe te pas; bewys te lewer van R589 miljoen se rente op onbetaalde lenings wat afgeskryf is; verkeerde berekeninge van rente-inkomste van R181 miljoen; en ’n rekonsiliasieverskil van R42 miljoen tussen die NSFAS-lening-en-bestuurstelsel.
Nog ’n probleem was onregmatige besteding van R25 miljoen.
Nzimande het gesê met die strategie wil hy verseker dat van elke sent rekenskap gegee kan word.
Baie werk moet nog gedoen word. Uitvoerende- en bestuursposisies word tans gevul en ’n nuwe leningstelsel sal gebruik word.
Nog ’n ingryping is die onmiddellike beskikbaarstelling van R200 miljoen vir sowat 25 000 studente wat gegradueer het, maar nog nie hul sertifikate gekry het nie weens skuld aan instellings.
Nzimande het universiteite versoek om dié inligting so gou moontlik deur te gee sodat studente hul sertifikate kan kry en die arbeidsmark betree.
’n Verdere R50 miljoen is bewillig vir nagraadse studente wat hulp nodig het om hul honneurs-, meesters- en doktorsgrade te verwerf.
Die NSFAS het van R441 miljoen in 1999 gegroei tot R5,5 miljard met 210 000 studente wat verlede jaar geldhulp gekry het.
Nzimande het gesê daar word ook gekyk na hoe aansoekprosesse aangepas kan word sodat die geld verdienstelike studente vinnig bereik.
Daar gaan ook intensief gekyk word na bedrog en korrupsie by instellings om te verseker studente word nie benadeel nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld