Studente in Kuba 'ondankbaar' – minister
2013-02-22 13:47
Johannesburg – 'n Groep Suid-Afrikaanse mediese studente wat in Kuba staak oor hul sakgeld, is ondankbaar, het dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, Vrydag gesê.
"Die sin van ondankbaarheid en aanspraakmaking wat die studente toon, wat uit 'n land kom met beperkte hulpbronne en waar hoër onderwys benodig word, is heeltemal onaanvaarbaar," het Nzimande in 'n verklaring gesê.
"Ek veroordeel dit in die sterkste terme."
Altesame 187 van die 1 200 studente wat tans daar is, het sedert 7 Februarie onwettig begin “staak”.
Hulle het geëis dat hul toelae verhoog word met 300% van R1 776 ($200) per maand tot R6 216 ($700) per maand, en dat die departement ’n gesondheidsattaché soontoe moet stuur. Hulle is glo ook nie bereid om varkvleis te eet nie.
Nzimande het gesê die regering spandeer sowat R500 000 per student oor ses jaar vir taalkursusse, mediese opleiding en verblyf in Kuba.
Die minister het gesê indien die studente iets eis wat 'n voorreg is, moet hulle oorweeg om na Suid-Afrika terug te keer en vir iemand anders die geleentheid te gun om te gaan studeer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA