Studente help toe ouetehuis se dak inval
2011-01-28 23:00
Johannesburg- Sowat 75 bejaardes is sonder ‘n heenkome nadat die dak van ‘n ouetehuis in Potchefstroom Vrydag ineengestort het, het paramedici bekend gemaak.
“Die dak van die tehuis se eetsaal het glo kort na middagete ineengestort. Niemand is in die voorval beseer nie, maar die perseel moes dadelik ontruim word,” het Vanessa Jackson, ER24-woordvoerder, gesê.
Sommige van die bejaardes se familie het hulle kon haal terwyl ander tydelik by die Potchefstroomkampus van die Noordwes-universiteit gehuisves is.
“Studente het met hulle eie motors gehelp om die bejaardes na die universiteit aan te ry. ER24 se ambulanse is ook gebruik om die bejaardes te vervoer.”
Dit is onduidelik wanneer die tehuis weer sy deure sal kan open.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA