Student hof toe oor baba
2011-12-14 08:30
Pretoria – ’n 19-jarige student wie se baba in Mei volgende jaar gebore moet word, het ’n hofbevel verkry teen die pa van haar kind wat hom dwing om ’n rits betalings te doen vir haar swangerskap.
Die student, van Potchefstroom, woon luidens hofstukke in die hooggeregshof in Pretoria saam met die biologiese pa. Hulle woon by die pa se ouers.
Die pa is 23 jaar oud.
Dié twee het ’n skikking bereik om moontlike regsgedinge in die toekoms te vermy.
Die hof het dele van die skikking Maandag ’n hofbevel gemaak.
Die baba se verwagte geboortedatum is 1 Mei.
Die ooreenkoms bepaal dat die pa die kraamuitgawes moet betaal.
Dit sluit in die rekening van die hospitaal, die ginekoloog, die laboratorium en alle ander bykomende mediese of hospitaaluitgawes vir die ongebore kind.
Omdat die pa nie tot ’n mediese fonds behoort nie, moet hy R2 100 per maand (van 24 September vanjaar) aan die ma betaal sodat sy haar hospitaal- en ginekoloog-rekeninge vooruit kan betaal.
Hy moet ook R850 per maand (van 1 Oktober vanjaar) tot die geboorte aan haar betaal vir voorgeboorte-ondersoeke, wat ’n sonarskandering insluit.
Hy moet ook R1 500 (van 1 Oktober) onderhoud aan haar betaal sodat sy voorsiening kan maak vir babaklere en ander benodigdhede. Dié bedrag sal jaarliks met 10% styg en sal steeds aan die ma betaal word ná die geboorte en totdat sy haar studie voltooi het.
Die ooreenkoms bepaal dat sodra die “saamwoon-situasie” saam met die pa se ouers vir die ma “ondraaglik raak”, moet hy binne 48 uur vir haar “ordentlike ander huisvesting” kry.
Hy moet ook vir die ander huisvesting betaal. Die nuwe woonplek moet haar goedkeuring wegdra.
’n Deel van die skikking wat nie deur die hof bekragtig is nie, het behels dat die pa nie toegang tot die baba sou hê wanneer hy onder die invloed van drank is nie. Dié deel het ook behels dat die pa “glad nie kru taal voor die minderjarige kind mag gebruik nie” en “daar nie in die teenwoordigheid van die minderjarige kind gerook mag word nie”.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld