Stryd om beheer oor Potch woed voort
2013-02-05 12:04
Johannesburg – Die ANC in die Noordwes het Dinsdag gesê hy sal 'n mosie van wantroue teen die DA se burgemeester in die Tlokwe-munisipaliteit, Annette Combrink, ter tafel lê.
Dié munisipaliteit sluit Potchefstroom in.
"Maphetle [Maphetle] sal heraangestel word op die manier wat hy verwyder is – deur 'n mosie van wantroue in die huidige burgemeester," het Kenny Morolong, woordvoerder, gesê.
Verskillende faksies in die ANC het in November verlede jaar 'n mosie van wantroue teen die ANC-burgemeester Maphetle Maphetle ingedien. Hy is vervang deur Combrink, wat die DA verteenwoordig.
Die ANC het ook die hoop uitgespreek dat Combrink se aanstelling ongeldig verklaar kan word omdat sy haar benoeming met 'n SMS aanvaar het.
Die ANC se provinsiale uitvoerende komitee (PUK) het Maandag vergader, en raadslede het hulle "onvoorwaardelik" verbind tot Maphetle se heraanstelling.
"Die PUK is tevrede met die vooruitgang wat gemaak is in hierdie vergadering, wat volgens ons sal lei tot die herstel van die mense van Tlokwe se vertroue in die ANC."
Die mosie sal glo voor die einde van Februarie ter tafel gelê word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA