Stryd is nog nie verby, sê stakers
2012-09-14 23:00
Rustenburg – Stakende mynwerkers het geretireer ná die regering gewaarsku het dat hy nie verder onwettige saamtrekke sal verduur nie.
“Ons vrees vir ons lewens, ons kruip weg in ‘n geheime plek. Die polisie soek ons,” het Gadaffi Ndoda, een van die leiers van Anglo American Platinum se stakende mynwerkers, gesê.
Ndoda het egter gesê mynwerkers nie sal terugstaan nie, want die stryd om beter salarisse is nog nie verby nie.
“Ons gaan by die polisiestasie ‘n optog hou en aandring op die vrylating van ons kollegas wat in hegtenis geneem is.”
Sewe mense is Vrydag in hegtenis geneem na die polisie stakers by Aquarius se Kroondal-platinummyn uitmekaar gejaag het.
Aquarius het Vrydag die vierde myn geword om sy bedrywighede te staak.
“Die mans is in hegtenis geneem omdat hulle onwettig gestaak het,” het Thulani Ngubane, woordvoerder vir die polisie in die Noordwes, gesê.
“Ons gaan dit nie verder verdra nie. Ons doel is om wet en orde te handhaaf en dit is wat ons gaan doen.”
Jeff Radebe, minister van justisie, het vroeër in Pretoria gesê dat die regering onwettige stakers nie langer sal duld nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA