Strenger wette oor verkeer beplan
2012-01-17 09:01
Johannesburg – Suid-Afrikaners het ’n kopskuif nodig om die slagting op die paaie stop te sit en strenger wetgewing word beplan om dit te help bewerkstellig.
Dit was gister die boodskap van S’bu Ndebele, minister van vervoer, op ’n mediakonferensie in Pretoria.
Ndebele het gesê nuwe motoriste wat hul rybewystoets geslaag het, sal moontlik binnekort vir die eerste drie jaar ná die toets geen alkohol mag gebruik voordat hulle agter die stuurwiel inskuif nie.
Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het in Desember 2010 reeds gesê die regering oorweeg dit om bestuurders te verbied om hoegenaamd alkohol te gebruik voordat hulle agter die stuurwiel inskuif.
Die Mediese Navorsingsraad het ook vroeër ’n beroep op die minister gedoen om dit vir ’n tydperk onwettig vir nuwe bestuurders te maak om alkohol te drink voordat hulle bestuur.
D
aar sal ook weer na die moontlikheid gekyk word om die maksimum spoed tot 100 km/h te verlaag.
Philip Taaibosch, sekretaris-generaal van die taxivereniging Santaco, het gesê hulle het taxi-operateurs reeds aangesê om ’n beleid van geen verdraagsaamheid teen drink en bestuur toe te pas.
Ndebele het gesê luidens die voorlopige verslag is 1 475 mense in 1 230 noodlottige ongelukke van 1 Desember tot 10 Januarie dood.
Die meeste (256) het in KwaZulu-Natal en Gauteng (207) plaasgevind.
Hoewel daar minder padsterftes in vergelyking met dieselfde tydperk die vorige jaar was, gaan die departement en verkeersbeamptes vanjaar nog strenger optree.
Daar word 30 dae ná die 10 Januarie-afsnydatum weer na die syfers gekyk aangesien baie mense intussen sterf weens beserings in ongelukke in die feestyd.
Volgens Ndebele is 70% van noodlottige ongelukke botsings reg van voor. “Motoriste raak ongeduldig, steek voertuie verby en bots teen ’n hoë spoed.”
Ndebele het gesê 2012 is die jaar waarin Suid-Afrikaners padveiligheid gaan bespreek soos die einde van apartheid in die laat 1980’s bespreek is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld