Strenger maatreëls kom ná gewere verdwyn
2009-10-24 17:58
Johannesburg - Komm. Bheki Cele het gevra dat strenger maatreëls in plek gestel word om die polisie se vuurwapens en ammunisie te beveilig.
Dít volg nadat 147 R5-gewere oor die afgelope jaar uit polisievoorraad regoor die land verdwyn het.
Sr. supt. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het Saterdag in 'n verklaring gesê die verdwyning van dié gewere het ernstige kommer by die topbestuur van die polisie gewek.
Hy het gesê dié wapens word nie gewoonlik permanent aan polisielede uitgereik nie, maar word in voorraad aangehou en vir spesifieke gebruik uitgereik.
"Die nasionale polisiekommisaris Bheki Cele het die provinsiale kommisarisse regoor die land aangesê om strenger maatreëls in plek te stel om die veiligheid van wapens en ammunisie te verseker," het hy gesê.
Die maatreëls sluit in om die R5-gewere aan individue toe te ken sodat daar rekenskap kan wees wat verseker dat wapens wat nie uitgereik is nie, beveilig is.
Naidoo het gesê drie polisiemanne van 'n polisiekantoor in Gauteng is onlangs in hegtenis geneem nadat hulle glo R5-gewere gesteel en aan misdadigers verkoop het.
– Sapa