'Stralende' Reeva se laaste onderhoud
2013-02-22 07:00
Johannesburg – Die model en regsgeleerde Reeva Steenkamp het haar kêrel, Oscar Pistorius, bewonder en gerespekteer, het sy in 'n onderhoud 'n week voor haar dood gesê.
Steenkamp het aan die tydskrif heat gesê sy is bekommerd dat "leuens" oor hulle die verhouding sal verwoes.
"Ons het nie met die media gepraat nie omdat ek nie wil hê dit moet besoedel word nie. Ek wil nie hê enigiets moet in die pad van sy loopbaan staan nie. Hy is so 'n wonderlike atleet," het Steenkamp gesê.
"Weet jy wat doen hulle, hulle maak goed op, 'Reeva verkul Oscar' en snert soos dit. Ek wil nie hê leuens oor ons moet dit [sy loopbaan] in gedrang plaas nie."
Pistorius is op Valentynsdag in hegtenis geneem nadat Steenkamp in sy huis by die Silver Woods-landgoed in die ooste van Pretoria doodgeskiet is.
Hy is aangekla van moord en sy borgtogaansoek sal Vrydag 'n vierde dag in die Pretoriase landdroshof betree.
Pistorius het in 'n beëdigde verklaring gesê hy het gedink daar is 'n inbreker in die huis en het eers ná die skote besef dit is Steenkamp.
heat het in 'n mediaverklaring gesê Steenkamp was "stralend" toe sy oor haar nuwe romanse met Pistorius gepraat het.
Steenkamp het bygevoeg dat sy wil wegbeweeg van swemdrag-modelwerk en bekend wil word as 'n klassieke model.
"Ek probeer aan my modelloopbaan werk en myself verwyder van die hele FHM-stigma. Ek wil as 'n klassieke model gesien word."
Op die voorblad van die uitgawe, wat van Vrydag af op die rakke is, is 'n foto van Steenkamp in 'n lang wit rok en 'n foto van Pistorius langsaan.
Andre Neveling, redakteur van Heat Suid-Afrika, het gesê die paartjie het ingestem om in April 'n eksklusiewe fotosessie met die tydskrif te doen.
"Tydens die onderhoud sewe dae voor haar dood, het Reeva vir die eerste keer oor haar nuwe romanse gepraat."
Steenkamp is Dinsdag tydens 'n privaatdiens in Port Elizabeth veras.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA