Strafregtelike klagte kom teen Malema
2011-10-20 12:10
Kaapstad – Die burgerregte-organisasie AfriForum het in 'n verklaring gesê hy gaan Donderdag 'n strafregtelike klag teen Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, aanhangig maak.
Dít nadat hy Woensdag op 'n openbare geleentheid in Thembelihle, Lenasia, inwoners aangemoedig het om grond sonder toestemming te beset indien die regering nie dit aan hulle oorhandig nie.
"AfriForum het op regsadvies verneem dat hierdie optrede van Malema op sigself die misdryf van uitlokking tot sedisie daarstel en dat hy strafregtelik daarvoor vervolg kan word," lui die verklaring.
Die klag sal om 15:00 by die Wierdabrug-polisiestasie in Valhalla, Centurion ingedien word.
"'n Reeks ander misdrywe, wat uitlokking tot openbare geweld en uitlokking tot betreding insluit, sal in die alternatief gepleit word," het die organisasie gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24