Strafpunt-boetes vlot nie in Gauteng
2009-12-11 08:40
Cobus Claassen
Johannesburg - Die Tshwane-metropolisie moet maandeliks duisende omstrede Aarto-boetes kanselleer omdat dit nie aan die voorskrifte van dié wet voldoen nie.
Dit het aan die lig gekom uit antwoorde wat S’bu Ndebele, minister van vervoer, eergister in reaksie op parlementêre vrae van die DA verskaf het.
Die padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) het sy proeflopie met die wet op administratiewe beregting van padverkeersmisdrywe (Aarto) – wat ’n strafpuntstelsel insluit – in September verlede jaar in Tshwane begin.
Die aanvoorprojek is vroeër vanjaar ook na Johannesburg uitgebrei.
Volgens Ndebele het die padvalke in Pretoria teen 31 Oktober vanjaar 675 881 Aarto-boetes van altesame R347,3 miljoen uitgereik.
Altesame 31 240 boetes moes gekanselleer word omdat boetevorms verkeerd ingevul is of boetes, strydig met die wet, nie binne 40 dae nadat die oortreding begaan is, uitgereik is nie.
Byna 90% van die boetes ten bedrae van R16,4 miljoen is gekanselleer voordat dit uitgereik is.
Die minister het toegegee daar is “geringe probleme wat departement moet regstel”.
Die nasionale forum vir metropolisiehoofde (NHMF) het vroeër vanjaar ’n verslag aan Ndebele en die RTMC gestuur waarin aanbeveel word dat Aarto nie landwyd ingestel word voordat verskeie ernstige probleme opgelos is nie.
Luidens die verslag het die eNaTIS-stelsel nie die kapasiteit om Aarto-wetgewing te reguleer nie, word wederregtelike insameling van boeteskuld gedoen en uitreikings van dagvaardings en boetes verkeerd gehanteer.
Die NHMF het Ndebele in Oktober gewaarsku daar is verwarring oor Aarto by die metropolisie, die polisie, die howe en die publiek.
Ndebele het gesê Aarto sal landwyd bekend gestel word wanneer die departement tevrede is met die stelsel in Pretoria en Johannesburg. Dit sal volgens hom in fases in werking gestel word.
Die Tshwane-metropolisie het vanjaar telkens ontken hy sukkel om die Aarto-stelsel onder die knie te kry.
- Beeld