'Stoute' polisiebeamptes in die sop
2010-07-08 05:20
Johannesburg – Twee metropolisiebeamptes staar dissiplinêre stappe in die gesig nadat hulle in ‘n “onvanpaste posisie” betrap is, het die Ekhurhuleni-metropolisie Woensdag gesê.
“Hulle is nie tydens die seksdaad betrap nie. Hulle is net in ‘n onvanpaste posisie gevind,” het hoofsupt. Wilfred Kgasago, woordvoerder, gesê.
“Hulle klere was deurmekaar en dit is hoe die gevolgtrekking gemaak is.”
Volgens Kgasago het die voorval op 25 Junie plaasgevind toe ‘n lid van die gemeenskapspolisieforum (GPF) ingestap het op die twee by die metropolisie se kantore in Benoni.
Volgens The Star het die GPF-lid probeer om ‘n sakeman te help wat ‘n noodgeval gehad het en geen antwoord by die metropolisie se kantore kon kry nie.
“Die voorval is onder ons aandag gebring en dit is baie ernstige bewerings.”
Die saak is aan ‘n interne eenheid van die metropolisie oorhandig wat werk met die integriteit en professionaliteit binne die polisie.
Hulle het reeds onderhoude gevoer met al die betrokkenes.
“Volgens ons inligting was die beamptes nie veronderstel om in die kantoor te wees nie. Hulle was nie meer aan diens nie,” het Kgasago gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA