Stortvloed eise ná haelstorm
2012-10-24 08:39
Johannesburg – 'n Verwoestende haelstorm wat Gauteng Saterdag getref het, het tot 'n stortvloed versekeringseise gelei.
Hael so groot soos gholfballe het motors se windskerms verpletter, vensters gebreek, motors se bakwerk beskadig, dakke laat ingee en tuinmeubels beskadig, het Sapa berig.
'n Enkele versekeraar, Dial Direct Insurance, het Woensdag bekendgemaak dat hy binne 12 ure ná die storm altesaam 3 302 eise vir skade ontvang het.
Meer eise word daagliks ontvang, het die versekeraar gesê.
“Dit is beslis een van die mees verwoestende storms wat ons nog ooit gesien het. Dial Direct se personeel het oortyd gewerk om hierdie eise in te voer, en die meerderheid daarvan is intussen gefinaliseer," het Bradley Du Chenne, 'n woordvoerder van Dial Direct, gesê.
'n Groot persentasie van die eise het van Primrose in Germiston gekom. Ander gebiede wat erg geraak is, sluit in Elsburg, Sunnyridge, Symhurst, Boksburg en Edenvale.
– Volg Nuus24 op Twitter.