Storm bars los ná kind in motor gelos word
2012-01-10 08:06
Welkom – ’n Storm het Maandag losgebars oor die vervolging van die twee mans wat ’n vierjarige meisie Saterdagmiddag ure lank hier in ’n toe motor in die versengende hitte gelaat het. Dié verdagtes is nooit aangekla nie.
Die twee mans is op die toneel in hegtenis geneem nadat Annali Snoer, paramedikus van Netcare 911, ’n motorruit gebreek het om die kind te red.
Die ma wat toe ontbied is en heelwat later eers daar aangekom het, het gesê dat die kind sonder haar toestemming saam met die mans gery het, maar sy wil nie dat hulle vervolg word nie. Die mans is toe vrygelaat.
Intussen beplan Charmaine Labuschagne, beheeraanklaer in die hof vir seksuele misdrywe en kinderbeskerming, om die mans van poging tot moord, kinderverlating en kindermishandeling aan te kla. Daar is egter geen dossier aangelê nie.
“In álle gevalle waar kinders betrokke is, is die staat die klaer en die polisie wéét dit. Die ma kan nie besluit of sy die mans wil laat vervolg of nie. Teen haarself gaan ek ook ’n ondersoek laat instel. Hoe het hulle die kind by haar weggekry en so lank van haar weggehou sonder dat sy navraag begin doen het?
Die kind was minstens drie uur onder hul sorg.
“Die twee karwagte, wat nie eens formele opleiding het nie, het besef dat hierdie ’n saak vir die polisie is, maar die polisie laat die verdagtes vry. Moet ons voortaan by karwagte ons klagtes indien?”
Dit is nie bekend hoe lank die kind in die motor was voordat die alarm daarvan afgegaan en die twee wagte by Goldfields Mall haar daar gesien het nie. Vandat hulle die polisie en ambulans ontbied het, totdat die twee mans onder wie se sorg sy was weer by die motor aangekom het, was bykans twee uur.
“Elke mens moet oplettend wees en as hulle sien dat ’n kind alleen in ’n motor gelaat word, moet hulle dadelik die polisie bel. Dit is ’n strafbare oortreding. Ek wil vra dat karwagte spesifiek hiervoor oplet.”
Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, het Maandagmiddag bevestig dat die vrylating verkeerd was, dat ’n dossier aangelê en die verdagtes weer in hegtenis sal word.
Volg Nuus24 op Twitter