Stilte oor komplot om Zuma te vermoor
2011-10-18 08:01
Kaapstad – Besonderhede oor ’n aanslag op pres. Jacob Zuma se lewe toe hy nog adjunk-president was, is Maandag dig gehou.
Sy woordvoerder, Mac Maharaj, het gesê dié komplot is deel van die verlede en dit is “oor en verby”.
Zuma het die kwessie dié naweek geopper vanweë sy “diepe respek” vir sy ontslape lyfwag en nie omdat hy sensasie wou wek nie, het Maharaj gesê.
Zuma het Saterdag in Durban op die begrafnis van sy lyfwag kapt. Patrick “Sho” Maphumulo (39) onthul dat daar ’n sluipmoord-komplot was om hom as adjunk-president om die lewe te bring.
Die komplot is egter gefnuik deur lojale lyfwagte wat geweier het om daarby betrek te word.
Volgens Maharaj het die president in sy toespraak verwys na sy noue band met Maphumulo wat ’n aantal jare deel van sy veiligheidspan was. Maharaj wou egter nie besonderhede daaroor verstrek nie.
Zuma het luidens ’n berig wat Maandag in The Witness verskyn het, gesê Maphumulo was een van die lyfwagte wat geweier het om by die komplot betrokke te raak.
Die samesweerders wou weet met wie Zuma gepraat en met wie hy hom vereenselwig het.
“Hy (Maphumulo) en sommige in die span lyfwagte het ’n diepe begrip van politiek getoon. Hulle het geweier om inligting aan hul meerderes te verskaf toe hulle oor my bewegings te wete wou kom.
“Deur te weier om gedwing te word, is hulle deur hul seniors verstoot en sommige voorregte geweier wat hul kollegas geniet het, maar desondanks het hulle nie bes gegee nie,” het Zuma in Zoeloe gesê.
Die president het gesê die samesweerders het probeer uitvind hoeveel vuurwapens sy lyfwagte het met die doel om die wagte en hom te vermoor.
Volgens Maharaj het Maphumulo waarskynlik malaria opgedoen toe hy deel was van Zuma se span lyfwagte wat onlangs na die inhuldiging van die president van die nuwe staat van Suid-Soedan gereis het.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad