Steyn se alibi's toe nié waterdig
2012-08-31 12:53
Johannesburg – Twee alibi-getuies het in die hof ontken dat hulle saam met Johannes Jacobus Steyn was op die dae wat die sogenaamde Sondagverkragter sy slagoffers aangeval het.
Regter Sita Kolbe het gesê die getuies mag nie geïdentifiseer word nie.
Die eerste getuie was ‘n vrou wat saam met die beskuldigde by die Yusuf Dadoo-hospitaal in Krugersdorp gewerk het toe hy sy gemeenskapsdiens daar gedoen het.
Sy het in die hooggeregshofsitting in die Palm Ridge-landdroshof in Alberton gesê dat sy nog nooit by sy huis was nie.
Die vrou is gevra of sy al ooit by ‘n verlate vakansieoord in Maropeng seks met die verdagte gehad het, soos wat hy vroeër getuig het. Die vermoorde tiener Louise de Waal se lyk is hier gevind.
“Definitief nie... Dalk in sy drome,” het die vrou geantwoord.
Steyn het beweer hy was op 31 Oktober 2010 – toe ‘n meisie in Krugersdorp ontvoer en in Magaliesburg verkrag is – saam met die getuie.
Die getuie het gesê sy was nie saam met hom nie. Sy het bygevoeg dat hulle nog nooit seks gehad het nie.
Toe adv. Anton Lerm, die beskuldigde se regsverteenwoordiger, die vrou gevra het of sy die seksuele verhouding ontken omdat sy daaroor skaam was, het sy gesê dis onwaar.
Steyn staan tereg op twee aanklagte van moord, 11 van verkragting, 10 van seksuele aanranding, 10 van ontvoering, een van poging tot seksuele aanranding, een van poging tot ontvoering en twee aanklagte van aanranding. Hy het onskuldig op al die aanklagte teen hom gepleit.
Die tweede alibi-getuie wat getuig het, was Steyn se voormalige kollega.
Steyn het vroeër getuig dat hy op 7 Maart 2010 dié kollega met motorprobleme gehelp het. ‘n Ander meisie is daardie dag in Rustenburg ontvoer en verkrag.
Die man het gesê hy het Steyn vir advies oor sy motor gevra, maar dat dit daardie jaar in Junie gebeur het. Steyn het hom nooit gaan help nie.
“Ek het hom vir raad gevra. Ek het dit self reggemaak.”
Die verhoor is tot 12 September uitgestel sodat Lerm sy kliënt se pa en broer kan bel om te getuig.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA