Steve gooi U2-kaartjies in rivier
2011-02-13 17:25
Pretoria – Steve Hofmeyr het R5 000 se U2-kaartjies in die Jukskeirivier gegooi in protes teen Bono se kommentaar op die “skiet die boer”-liedjie.
Hofmeyr het op Twitter gesê: “Ek het sopas my R5 000 se U2-kaartjies in die Jukskei gegooi. Ek gaan huis toe. Ek kan geen konteks vir daardie liedjie vind nie. Jammer en totsiens.”
Bono, die hoofsanger van U2, is saam met sy groep in Suid-Afrika vir dié rockgroep se wêreldwye 360 Degrees-toer. Hy het groot opspraak in Suid-Afrika gemaak nadat hy aangekondig het dat hy die anti-apartheid liedjie “Skiet die boer” ondersteun.
Die Ierse sanger het in ‘n onderhoud met Sunday Times gesê dat daar 'n plek is vir struggle-musiek soos “Skiet die boer."
Bono sê hy onthou toe hy as kind liedjies gesing het wat sy ooms gesing het. Dit was “rebelse liedjies oor die vroeë dae van die Ierse republikeinse weermag,” het hy gesê. Dié liedjies het ook glo oor geweld en vuurwapens gehandel.
Hy het egter bygevoeg dat liedjies soos dié nie in die verkeerde konteks gesing moet word nie.
“Dit gaan oor wanneer en waar jy die liedjies sing. Daar is ‘n reël vir hierdie tipe musiek.”
Radiostasies en die internet het Sondagoggend oor sy uitspraak gegons.
“Dit is haatspraak. Hulle ken glad nie ons geskiedenis nie,” het ‘n luisteraar oor Talk Radio 702 gesê.
‘n Leser van Sunday Times meen Bono het nie die liedjie goedgepraat het nie.
U2 tree Sondagaand by die ENB-stadion in Soweto op as deel van hul toer.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24